cornelle

...........my skribbels

Thursday, March 15, 2007

vrydag blues

mmh Dis uiteintelik Vrydag. Jippie. Die dag het met 'n bietjie van 'n bump begin toe iemand na aan my vanoggend kwart oor 6 'n moeilike vraag gevra (wat volgens hom nie moeilik was nie). Ok, miskien was dit nie moeilik nie, maar dit is ook nie eenvoudig nie. Eintlik was ek nog nie lekker wakker nie, en daar was nie genoeg tyd om die breedvoerige antwoord wat die vraag regverdig behoorlik in my kop te formuleer en rustig met hom te bespreek nie omdat hy 20 oor 6 sou moes gaan. Toe sê ek vir hom ek sal hom vanaand antwoord. Het klaar my antwoord reg, al probleem is ek gaan nou heeldag daaraan dink. Mag hierdie Vrydag verby vlieg!! Ek is so lief vir hierdie persoon en ek wil alles in my vermoë doen om hom gelukkig te maak.

Toe ek hier by die werk kom (bonop laat agv die bg. wat my so bietjie gegooi het) het ons weer 'n kwaliteitsprobleem met 'n produk waarmee ons altyd 'n probleem het. Vandat ek hier werk en dis nou al twee jaar. Ek voel soos 'n mislukking omdat ek in al hierdie tyd nog nie die magical oplossing op die taamlik gespesialiseerde kwessie kon vind nie. Dit voel of ek niks weet nie en nie juis veel van 'n aanwins vir die company was in die tyd wat ek hier was nie (wel, in elk geval nie ten opsigte van kwaliteitskontrole nie). Vergeet van blou Maandae en praat van depressing...... mag 4uur vinnig nader kom.

ps

Ek beloof plegtig om na my vorige post nie weer die naam "De La Rey" op hierdie blog te publiseer nie. (Ek is net so gatvol soos julle.)

De La Rey maak my bly

Ek weet. Teen hierdie tyd is almal nou al goed gatvol vir die hele De La Rey debakel.. ek wil nie eers dink hoe voel arme ou Bok teen hierdie tyd nie. Dit raak net elke dag belagliker... soos by my boetie se skool op Oudshoorn (hy's 'n gimmie daar by Langenhoven Gim) is hulle summier verbied om die liedjie te sing "waar groot groepe gimmies bymekaar is". Die storie haal toe al die koerante (Burger, Volksblad En Beeld). Die ouers wat vanjaar die skool se kroegfasiliteite by die KKNK beman, weier toe uit protes om dit hierdie jaar te doen. Hulle betoog voor sy huis en die kinders betoog in die dag voor sy kantoor.. nogal erg! Toe lees ek vanoggend hierdie in Die Burger:

SUID-KAAP: ‘De la Rey’ nou op die ‘Gimmie-manier’ gesing
SONIKA JOHNSTON
14/03/2007 10:38:36 PM - (SA)OUDTSHOORN. –
Die Langenhoven Gimnasium hier wil nou hê Bok van Blerk moet sy lied “De la Rey” by die skool kom sing.Dit kom drie weke nadat mnr. Hillie Schultz, die skoolhoof, te midde van groot protes deur die ouers en leerders, die sing of speel van die lied by die skool verbied het.Leerders was Maandag verheug om te hoor hulle mag die lied weer sing – waar hulle wil en so hard as wat hulle wil – op een voorwaarde: “Ons wil hê dit moet soos een van ons Gim-liedjies word waar leerders bymekaar inhaak en op die maat van die musiek wieg,” het Schultz gesê.Schultz het gesê hy gaan Van Blerk nader om voor die Klein Karoo Nasionale Kunstefees by die skool te kom optree.Me. Theresa du Preez, Van Blerk se bestuurder, het gesê sy weet niks van so ’n optrede nie. “Ek het ’n e-pos van die skoolhoof gekry waarin hy vra om met Bok te gesels wanneer hy later vandeesmaand op die dorp sal wees, dis al.” Van Blerk is glo vol bespreek tot volgende jaar.Intussen is daar verwarring en verbasing oor die hoof se ommekeer. “Hulle (die skool) het ’n pak slae gekry en nou oorkompenseer hulle om dit te probeer regmaak,” het mnr. Johan Wagener, ’n prokureur op die dorp, gesê.Luidens ’n persverklaring is die besluit geneem “suiwer in belang van die skool wat daarna streef om ’n gelukkige en vreedsame leeromgewing vir almal te skep”.Schultz het ontken dat druk die skool genoop het om die verbod te herroep.Ontstoke ouers en leerders het in SMS-boodskappe aan Die Burger hul stemme dik gemaak teen dié verbod. Verskeie ouers het gedreig om die skool se geldinsamelingsprojek by die Huisgenoot-musiekplaas tydens die KKNK te boikot en minstens een sake-onderneming het hul borgskap aan die skool summier onttrek.“Die grootste druk het waarskynlik van die leerders se kant gekom,” meen ’n ouer wat anoniem wil bly.Opstandige leerders het glo daagliks voor Schultz se kantoordeur saamgedrom om antwoorde op hul vrae te kry en hul griewe te lug.Volgens Schultz het die skool met die ophef van die verbod ’n opvoedingsgeleentheid raakgesien. Leerders is ingelig oor genl. Koos de la Rey en sy rol in die geskiedenis.Op ’n vraag oor waarom dié benadering nie uit die staanspoor gevolg is nie, het Schultz gesê die verbod was “krisisbestuur”.“Daarna kon ek en die beheerliggaam koppe bymekaarsit oor hoe ons dit verder gaan hanteer.”Schultz het vroeër verduidelik dat die lied verbied is omdat daar leerders was wat aanstoot geneem het. Die skool eerbiedig elkeen se grondwetlike reg op toegang tot onderwys, vryheid van spraak en ­assosiasie.

Praat van die perd agter die wa inspan....... miskien moes hulle die geskiedenis les gegee eerder as om eers op hulle (de la rey) perdjies te spring?? Sodoende kon die hulle die skool 'n groot klomp ongerief, tyd en onnodige publisiteit gespaar het .......mmmhhhhhhh. Wonder wat gaan Bok dink van die idee om saam met Mnr Schultz "De La Rey" te sing, op die "gimmie-manier" natuurlik!?